Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARLNUUS SONDAG 2 DESEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of d.m.v. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Gustav, ZS6BWN, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van Hennie Cilliers, ZS6BSF, op Sondag 25 November 2007, in die ouderdom van 63 jaar, aangekondig moet word.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SARL LOODS ‘N BYGEWERKTE RAE-STUDIEGIDS

HAMNET VERGADER IN KAAPSTAD

KLK NIE HOOG OP DIE LYS VAN MUNISIPALE BREËBANDPROJEKTE NIE


U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL LOODS ‘N BYGEWERKTE RAE-STUDIEGIDS

Die Suid-Afrikaanse Radioliga loods hierdie week ’n bygewerkte RAE-studiegids wat in sy geheel voldoen aan die “ Harmonised Amateur Radio Examination Certificate” (HAREC) se sillabus en die Internasionale Standaarde (ISO). Die nuwe gids sluit ’n nuwe hoofstuk oor digitale kommunikasie in. Studente wat vir die klas A radioamateureksamen studeer word aangeraai om die nuwe studiegids af te laai om te verseker dat hulle ten volle vir die Mei-eksamen voorberei is. Dosente moet let op die hoofstuk oor digitale kommunikasie en hulself vertroud maak met die addisionele studiemateriaal.

Vanaf die Mei-RAE sal die vraestel ’n bladsy formules insluit wat studente sal help om vrae wat berekenings bevat, te beantwoord. Dit beteken dat studente nie nodig het om alle formules te memoriseer nie maar slegs die korrekte formules moet kan uitsoek om die vraag te beantwoord en in staat wees om meer as een formule vir sommige vrae te gebruik.

Die SARL-studiegids vir die klas A RAE kan vanaf vroeg volgende week kosteloos vanaf www.sarl.org.za afgelaai word.

Die nuwe gids is gebaseer op die oorspronklike gids wat deur Andrew Roos saamgestel is met insette van baie radioamateurs. Die Raad van die SARL wil almal wat bygedra het van harte bedank, George Honiball, ZS6NE, wat gesorg het dat die gids aan ISO-standaarde voldoen en Colin de Villiers, ZS6COL, wat alles bymekaar gesit het. Julle toewyding aan amateurradio word hoog op prys gestel.

HAMNET VERGADER IN KAAPSTAD

Is jy deel van HAMNET, die SARL se noodkommunikasieorganisasie, of wil jy meer uitvind oor hoe jy jou stokperdjie kan gebruik om ’n essensiële diens aan die gemeenskap te lewer? HAMNET hou op Woensdag 5 Desember om 19:30 ’n vergadering in die Metrobeheersentrum by die Tygerberghospitaal, en jy is uitgenooi!

Francois Botha, Hamnet se Nasionale Direkteur sal die vergadering bywoon en terugvoering gee oor noodaktiwiteite in ander lande. Rob Byrne van JAMLINE sal die spesiale gas wees afhangende van enige noodtoestand wat sy onmiddellike aandag benodig. JAMLINE of “Traffic Connect” is ’n organisasie wat verskeie radiostasies en nooddienste van intydse inligting voorsien van padtoestande dwarsoor Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor die Kaapstad Hamnetvergadering kan Peter Grobler by 082 882 6626 of Dave Reece by 083 270 6843 genader word. (Herhaal die nommers)

Die volgende dag sal Francois Botha, op uitnodiging, die jaar-eindvergadering van die Maritieme reddingsko-ordinasiesentrum (MRCC) bywoon. Hamnet werk nou saam met die MRCC wie se hooftaak die beveiliging van lewe en eiendom ter see, die voorkoming en bekamping van marinebesoedeling vanaf skepe en om die Republiek se maritiemebelange te bevorder, is.

KLK NIE HOOG OP DIE LYS VAN MUNISIPALE BREËBANDPROJEKTE NIE

Roelf Diedericks van Neology, ’n maatskappy wat in die bou van breëbandnetwerke spesialiseer, het Kragdlyntelekommunikasie laag op die lys van tegnologieë, wat deur die stede van Suid-Afrika ontplooi gaan word, geplaas. Hy het verlede week by die MyADSL-breëbandkonferensie gesê dat KLK ’n onvolwasse tegnologie is met geen gestandaardiseerde protokols nie. Hy het ook gesê dat die beweerde breëbandvermoë van 200 Mgps te hoog aangeslaan word. Dit is baie nader aan 20 Mgps en dit word gedeel deur alle gebruikers van een insetpunt. Hy glo dat die hoofgebruik vir outomatiese meterlesing sal wees.

Dit beteken nie dat ons nie waaksaam moet wees nie en verwikkelings moet dophou nie. Die verwagte publikasie van die tussentydse KLK-standaarde deur OKOSA wag nog steeds op goedkeuring deur die OKOSA-Raad, vir publikasie vir publieke kommentaar. Die SARL monitor verwikkelinge.

500 kHz EKSPERIMENT ONDERSOEK NUWE GEBIEDE (Uit die ARRL-Nuusbrief)

Gedurende die aand van 13 November is die eerste transatlantiese kontak op 500 kHz tussen eksperimentele amateurradiostasies bewerkstellig. Eksperimentele stasie WE2XGR/2 (Jay Rusgrove, W1VD, in Connecticut) en GI4DPE (Finbar O'Connor, EI0CF, in Noord-Ierland) het vir ongeveer 15 minute dmv. morsekode op standaarspoed met mekaar gekommunikeer. Gedurende dieselfde nag het eksperimentele stasies in die VSA, WD2XSH/12 (Mike Mussler, AI8Z, in Colorado) en WD2XSH/20 (Rudy Severns, N6LF, in Oregon) die eerste kontak in die westelike helfte van Amerika gemaak. Twee dae later het WE2XGR/2 en GI4DPE hulle vorige prestasie herhaal en het WD2XSH/12 kontakte gemaak met WD2XSH/6 (Pat Hamel, W5THT in Mississipi) en WD2XSH/13 (John Oehlenschlager, K0JO, in Minnisota).

Die ARRL se eksperimentele lisensie, WD2XSH, is in September 2006 toegeken en behels 19 aktiewe stasies. Fritz Raab, W1FR, van Vermont, dien as projekbestuurder vir die 500 kHz eksperimentele groep vir amateurradio. Besonderhede is beskikbaar by www.500kc.com/.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag sal wees. Die verwagte geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees. Die verwagte effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die DX-toestande is gelukkig nog steeds 'n bietjie warm na Indië en die VSA.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 10, 15 en 20 m-openinge vanaf 12:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van goeie 15 m-openinge na Australië om ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike flou 15 en 20 m-openinge na Europa. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike 15, 20 en 80 m-openinge na die VSA.

Vir die morsekode en digitale -entoesiaste sal dit lonend wees om 10 MHz te monitor.

Plaaslik gaan toestande gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort goed oor die langer afstande te werk. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
Woensdag 5 Desember - Hamnetvergadering in Kaapstad;
09 Desember - PEARS se HF-QSO-geselligheid;
14 Desember - NARS sluit vir vakansietydperk.

SARLNuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolf luisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003